Return to site

Z’s: Die Agt Ure Slaap Mite

Dr Retha Jansen van Rensburg. Januarie 2020

· Liggaam,Verstand

Help! Ek kan nie onthou wanneer laas ek agt ure lank geslaap het nie! Ek kan nie eens onthou wanneer ek laas goed geslaap het nie. Ek slaap letterlik die slegste ooit. Gisteraand kon ek vir ure nie aan die slaap raak nie en ek is al van 04:00 af wakker. Ek funksioneer nie en val uitmekaar. Ek kan nie fokus nie. Ek is angstig en dink ook dat dit my sosiale lewe beïnvloed. Ek is nie gelukkig met my lewe nie. Gee asseblief my 'n voorskrif vir slaappille.

Dit is ‘n refrein wat daagliks deur my praktyk weerklink. Ek hoor dit elke dag - van die student tot mamma met haar baba, van die stresvolle kantoorwerker tot by bejaardes. Dit het ook al 'n paar keer met my gebeur. Soms uit eie keuse. Maar partykeer is dit nie binne ons beheer nie, soos byvoorbeeld wanneer ons angstig is oor universiteits- aansoeke of 'n motoralarm wat in die middel van die nag afgaan.

Niemand weet waarom slaap so belangrik is nie. Ons slaap ongeveer 'n derde van ons tyd op aarde om. Alhoewel dit vir sommige mense soos 'n groot vermorsing van tyd lyk, blyk dit dat slaap redelik belangrik vir ons gesondheid is, aangesien dit 'n stelsel is om hormone en die immuunstelsel te herstel en veral om 'n gesonde, funksionerende brein te herlaai.

Daar is 'n rede dat net een nag se swak slaap jou brein laat slegter funksioneer: navorsing dui daarop dat ons breine baie belangrike huishoudelike take verrig tydens diep, rustige slaap. Voldoende slaap is dus daarvoor nodig. Dit is die tyd vir ons breine om die afval wat deur die loop van die dag opbou, weg te spoel. Dit is ook dan wat ons ons geheue versterk en verbeter. As jy middernagolie brand, slapeloos is, of net 'n paar nagte sleg slaap, word jou brein se nagtelike roetine ontwrig en ervaar jy dit in drie verskillende areas as jy wakker word. Ons weet dat ons reaksietyd verlangsaam as ons te min slaap en ons praat dan stadig en monotonies. Ons weet dat ons 'n bietjie meer emosioneel kan raak en dat ons gesigsuitdukkings afgestomp raak, en ons weet dat ons kognitiewe denke geneig is om te vertraag.

Om 'n goeie nagrus te hê, lyk nie na veel nie, maar die gevolge is diepgaande. Ons moet onthou dat slaap een van die dinge is wat met die mens gebeur vir balans. Slaap beïnvloed elke orgaanstelsel en elke siektetoestand, en ons weet dat ons liggame nie goed gaan reageer wanneer dit uit balans is weens 'n gebrek aan slaap nie

Ons weet ook dat immuunfunksie aansienlik afneem as ons nie voldoende slaap inkry nie. ‘n Studie aan die Universiteit van Chicago berig dat toe griepinentings aan twee groepe mense (die wat geslaapdeprivieer was en mense wat genoegsaam slaap) toegedien is en hulle dan blootgestel was aan die griepvirus, byna twee keer soveel mense wat van hulle slaap ontneem was, griep gekry het. As ons nie slaap nie, kan dit dus 'n taamlike negatiewe impak hê op ons vermoëns om siektes te beveg.

Hoe lyk 'n suksesvolle nag van slaap?

Slaap het 'n baie presiese bewegingstruktuur van jou breingolwe. En terwyl jy slaap, gebeur daar verskeie dinge. In ‘n slaapsiklus beweeg jy van wakker na fase 1 van slaap, dan na fase 2, af na fase 3 en 4, terug na fase 2, en dan in REM-slaap in. Ons het vyf slaapsiklusse gedurende die nag. Maar hier is die interessante ding, al die siklusse is nie dieselfde nie. In die eerste deel van die nag, tydens fase 3 en 4-slaap (of 'diep slaap'), herstel ons liggame, dis hier waar groeihormoon vrygestel word en al sellulêre herstel plaasvind. In die laaste derde van die nag tydens REM-slaap is dit tyd vir geestelike herstel.

En hoe lank is die slaapsiklus?

Tussen 80 en 120 minute, maar dit duur gemiddeld 90 minute Die gemiddelde persoon het vyf siklusse van 90 minute per nag, wat gelykstaande is aan 7½ ure. Dus, as jy suiwer na net die slaapstruktuur kyk, het jy waarskynlik net 7½ ure se slaap nodig. Dit beteken dus dat agt ure 'n mite is.

Sommige mense se slaapstruktuursiklus kan egter langer as 90 minute duur. Of selfs 100 minute, en dan is dit moontlik dat hulle 8 ure se slaap nodig het - of dalk is die silusse korter. Almal se slaapbehoeftes verskil. Ek, byvoorbeeld, het 6 tot 7 ure se slaap nodig, maar ek het pasiënte wat 8, 8½ of selfs 9 ure slaap nodig het. As hulle soveel slaap inkry soos wat goed is vir my, sou hulle slaap gedeprivieer wees, terwyl dit goed gaan met my. Interessant genoeg, slaapsiklusse en en die tyd wat nodig is om te slaap verander tydens verskillende lewensfases. Onthou dat te veel slaap, net soos te min slaap, sleg is vir jou.

Dit was 'n omslagtige manier om te sê: nee, liewe pasiënt, ek gaan nie vir jou 'n voorskrif vir 'n slaappil gee sonder om die rede vir jou slegte slaap vas te stel nie, want dit gaan nie help nie. Benewens die feit dat slaappille baie verslawend is, gee slaappille nie die slaap en drome wat ons nodig het nie, en soos alkohol, laat dit ons net kalmeer en uitsonk en uitsonk is nie slaap nie. Slaappille blokkeer ook ons ​​REM-droomslaap, 'n belangrikke deel van die slaapsiklus. Al voel dit of ons geslaap het, het ons nie geslaap soos ons moet nie, en daarom sal ons steeds dieselfde probleme ondervind as wat deur slapeloosheid veroorsaak word.

Maar jy is reg. Slaaptekorte is ellendig. ‘n Swak nagrus is die uiteindelike moordenaar van ons gemoed en ons slegte buie word meer met verloop van tyd. Mense wat gereeld snags sleg slaap, is baie geneig om depressie of ernstige angs te ontwikkel. As ons van slaap ontneem word is ons eensaam, ongesond en angstig.

Gelukkig is “The best bridge between despair and hope is a good night of sleep.” Slaap in die regte dosis is 'n wondermiddel sonder newe-effekte.

Die kwaliteit van jou z's is egter net so belangrik vir jou as die tydsduur. Dit is dus nodig om goeie slaaphigiëne te beoefen. Hier is vyf nuttige wenke vir 'n goeie, herstellende nagrus:

Slaap moet konsekwent wees, ongeag wat. Gaan naastenby dieselfde tyd elke aand bed toe en staan ongeveer dieselfde tyd op elke oggend, selfs na 'n slegte nagrus of oor naweke.

     Hou jou slaapkamer koel, donker en stil.

Skakel alle elektronika 30 tot 60 minute voor slaaptyd af.

Oefen gereeld. As jy onaktief is en nie gereeld oefen nie, mis jy uit op 'n uitstekende slaapmiddel.

Groet die son. Wees elke oggend 15 minute buite in die son. Jou interne liggaamshorlosie (of sirkadiese ritme) werk in 'n 24-uur-siklus en funksioneer die beste wanneer jy blootgestel word aan 'n gereelde patroon van lig en donker.

Soos ek, wil jy en die mense in jou lewe dalk voldoende slaap om sodoende gedurende 2020 gesonder en vol lewenskrag te wees. Ons by Zenzile Life wens jou baie lieflike drome toe - asook 'n diep en helende nagrus vir elke aand.

broken image

Hierdie blog plasing is slegs ter inligting. Dit moet nie as terapie beskou word nie. Hierdie blog is slegs vir inligting en opvoedkundige doeleindes en moet nie as terapie of enige vorm van behandeling beskou word nie. Ons kan nie reageer op enige spesifieke vrae of kommentaar lewer op persoonlike situasies, toepaslike diagnose of behandeling nie, of andersinds kliniese opinies lewer nie. As u dink dat u onmiddelike hulp nodig het, kontak asseblief u plaaslike dokter/ sielkundige/ psigiater of die SADAG Geestesgesondheids Hulplyn op 011 234 4837. Indien nodig, kontak asseblief die Selfmoordkrisislyn by 0800 567 567 of sms 31393.

Hierdie blog plasing is slegs vir inligting. Dit moet nie as terapie beskou word nie. Hierdie blog is slegs vir inligting en opvoedkundige doeleindes en moet nie as terapie of enige vorm van behandeling beskou word nie. Ons kan nie reageer op spesifieke vrae of kommentaar oor persoonlike situasies, toepaslike diagnose of behandeling nie, of andersins enige kliniese opinies verskaf nie. As u dink dat u onmiddellike hulp benodig, skakel u plaaslike dokter / sielkundige of psigiater of die SADAG Geestesgesondheidslyn by 011 234 4837. Indien nodig, skakel asseblief die Selfmoordkrisislyn by 0800 567 567 of sms 31393.