Rou en verlies is onvermydelike dele van die menslike ervaring.
Belangrike feite oor rou
• Rou is 'n proses
• Die manier om uit rou te kom, is daardeur
• Rou kom en gaan
• Dit neem tyd om deur die rouproses te gaan en die tyd is anders vir elkeen
• Om die rouproses te vermy, kan lei tot ernstige emosionele en sielkundige probleme
• Die rouproses word verbeter met ondersteuning van ander
• Deur jouself tyd te gee, kan rou verwerk word en kan jy vorentoe beweeg in die lewe
Die fases van rou
In 1969 stel die psigiater Elisabeth Kubler-Ross die eerste keer bekend wat nou die vyf stadiums van rou genoem word. In haar werk, On Death and Dying uit 1969, het Kubler-Ross hierdie vyf fases uiteengesit gebaseer op haar jarelange werk met pasiënte wat terminaal was met kanker.
Die fases wat sy uiteengesit het, was: ontkenning, woede, bedinging, depressie en aanvaarding.
Ontkenning
Die eerste fase is ontkenning. Ontkenning word tipies gekenmerk deur skok en gevoelloosheid. Die psige ontwikkel 'n beskermingsmeganisme wat die geaffekteerde individu aanvanklik in ongeloof laat reageer. Deur ons begrip van wat gebeur het, te vertraag, help ons eintlik om ons emosies eerder geleidelik te prosesseer (Kessler, 2013).
Woede
Woede is die tweede fase. Sodra die werklikheid van wat gebeur het begin insink, verdwyn skok en gevoelloosheid en verander dit in woede en bitterheid. Alhoewel dit as woede voorkom, is dit eintlik net verplaasde hartseer. Die brein probeer om 'n doel of rede te vind vir die verlies, maar dan besef ons daar is nie logiese / aanvaarbare antwoorde daarop nie. Hierdie gebrek aan begrip veroorsaak ‘n diepe hartseer wat ons as woede ervaar (Kubler Ross stadiums van verdriet. (https://www.journey-through-grief.com/kubler-ross-stages-of-grief. html).
Bedinging
Die derde fase van rou is bedinging. Hierdie fase behels om na 'n hoër gesag (byvoorbeeld God of jou baas) te gaan en in wese te probeer beding vir die terugkeer van alles wat verlore gegaan het.
'n Voorbeeld kan insluit dat mens God vra om die lewe van 'n geliefde wat breindood verklaar is, te red, of om 'n ooreenkoms met 'n baas te probeer bereik nadat jy jou werk verloor het. Bedinging kan ook ervaar word as 'wat as' denke. Byvoorbeeld, "Wat as ek eerder … gedoen het?" of "As ek maar net eerder...." Dit spruit uit ons begeerte om terug te keer na 'n lewe vóór die verlies. Mens fokus dus baie op scenario's wat moontlik die verlies sou kon voorkom het.
Depressie
Depressie is die vierde fase. Dit behels die besef dat die verlies ‘n nare werklikheid is. Dit word gekenmerk deur diepe hartseer en rou.
Die lengte van hierdie fase wissel van persoon tot persoon, en word sterk beïnvloed deur die tipe verlies wat ervaar word (d.w.s. fisiek, sosiaal, werk, ens.). Vir sommige duur hierdie fase dae of weke, terwyl ander hierdie fase vir weke of maande kan beleef.
Aanvaarding
Die laaste fase van die Kubler-Ross-model is aanvaarding. Aanvaarding is bloot die besef en erkenning dat die verlies plaasgevind het en dat dit nou die werklikheid is. Dit beteken glad nie dat ons “saamstem” met die verlies nie, maar dit is bloot 'n besef is dat niks gedoen kan word om die uitkoms te verander nie. Die fokus kan dus nou verskuif word om te probeer vorentoe gaan na 'n 'nuwe normale' versus om te probeer om dinge te verander en “vas te sit” in die verlies.
Rou is 'n proses
Die proses van rou na 'n verlies is presies dit, 'n proses. Dit neem tyd om deur al die fases te gaan en daar behoort geen druk op ons in enige van hierdie stadiums te wees nie.
Individue moet hulle tyd neem om die fases en emosies in hul geheel te ervaar, sodat hul volkome kan rou en genees. Deur jouself tyd en genade te gee, kan rou verwerk word, en kan jy vorentoe beweeg.
Waarom jy moet tyd maak om te rou
As jy enige vorm van verlies ervaar, is die normale reaksie daarop 'n periode van hartseer, ook bekend as 'rou'. Dit kan die verlies wees van iemand vir wie jy lief is, 'n egskeiding of 'n verbreekte verhouding, 'n siekte wat onlangs gediagnoseer is, of finansiële probleme.
Rou kom gewoonlik in die vyf fases soos hierbo beskryf: Ontkenning, woede, bedinging, depressie en aanvaarding. Deur jouself die geleentheid te gee om te rou, kan jy jou hartseer aanspreek soos dit kom, en vinniger na jou normale alledaagse lewe terugkeer.
Terselfdertyd kan die nie-aanspreek van jou rou ook die potensiaal hê om jou emosioneel en geestelik te benadeel, op die kort- of langtermyn. Laat ons dus kyk wat kan gebeur as jy die rouproses heeltemal vermy.
Vermyding
Dit maak nie saak watter tipe verlies jy ervaar nie, daar is snellers (triggers) in jou lewe wat jou aan hierdie verlies kan herinner. Hierdie snellers kan spesifieke mense wees, 'n liedjie op die radio, 'n sekere plek of selfs 'n kosbare geskenk van jou geliefde.
As jy nie die tyd neem om te rou nie, kan jy uit jou pad gaan om hierdie snellers te probeer vermy. Dit kan jou lewe heeltemal ontwrig en jy kan selfs angs begin ervaar as gevolg van die moeite wat jy probeer doen om die snellers en hartseer te probeer vermy.
Uiteindelik sal jy vasgevang wees in jou huis en sal jy elke stap van jou dag sorgvuldig moet beplan om herinneringe aan jou verlies te vermy.
Vrees vir verhoudings
As jy 'n persoon verloor wat vir jou baie belangrik is, kan die hartseer selfs erger wees as gewoonlik. Tog, as jy nie die verlies van 'n geliefde rou nie, kan dit jou huidige en toekomstige verhoudings sonder jou medewete beïnvloed.
Jy het dalk gedink dat jou geliefde vir altyd by jou sal wees, maar nou is hulle weg. Jy kan dus bang wees om nuwe verhoudings te begin of om mense te naby te laat kom uit vrees dat jy hulle uiteindelik ook sal verloor.
In 'n sekere sin berei jy jouself altyd voor vir die ergste as dit kom by die bou van noue bande met ander mense.
Woede
Selfs al rou jy nie, ervaar jou liggaam en gees steeds die verlies op een of ander manier. Maar eerder as om manifesteer as hartseer, kan dit eerder in die vorm van woede voorkom.
As jy toelaat dat jou emosies te veel opbou, is jy baie meer geneig om dit op ander mense uit te haal, veral die mense vir wie jy omgee en daardie verhoudings permanent benadeel.
Dit is asof jy kwaad is vir die wêreld, terwyl jy jouself steeds die kans ontsê om jou verlies regstreeks te hanteer.
Depressie
Net omdat jy nie jou hartseer regstreeks in die gesig staar nie, beteken dit nie dat jy steeds nie die hartseer binne voel nie. As jy nie hierdie hartseer aanspreek nie, kan dit ook 'n oorweldigende hartseer veroorsaak wat uiteindelik tot depressie kan lei.
Dus, sal die vermyding van hartseer en rou uiteindelik lei tot 'n meer intense hartseer wat jy nie andersins sou beleef het nie. Jy kan agterkom dat jy “af” is, nie in jou stokperdjies belangstel nie, of dat jy nie meer omgee vir enigeiets nie.
Nie net sal jy die depressie moet hanteer nie, maar jy sal ook steeds die verlies moet hanteer om uiteindelik van hierdie depressiewe toestand ontslae te raak.
Finale gedagtes
Alhoewel dit dalk makliker lyk om voor te gee dat die verlies nie plaasgevind het nie en net met jou lewe aangaan, sal dit jou uiteindelik op die langtermyn inhaal en negatief beïnvloed.
Dus, is dit die beste om onmiddellik met jou rousmart te werk, eerder as om woede, depressie, vermyding en vrees op te laat ophoop, om dan uiteindelik jou hele lewe negatief te beinvloed.
Verwysings:
Johnson, P. (2007, 1 Februarie). Hantering van dood en hartseer. Ontsluit van https://www.focusonthefamily.com/get-help/coping-with-death-and-grief/
Kessler, D. (2013, 15 Oktober). Vyf stadiums van hartseer deur Elisabeth Kubler Ross & David Kessler. Ontsluit van https://grief.com/the-five-stages-of-grief/
Kubler Ross stadiums van rou. (N.d.). Ontsluit van https://www.journey-through-grief.com/kubler-ross-stages-of-grief.html
Hierdie blog plasing is slegs ter inligting. Dit moet nie as terapie beskou word nie. Hierdie blog is slegs vir inligting en opvoedkundige doeleindes en moet nie as terapie of enige vorm van behandeling beskou word nie. Ons kan nie reageer op enige spesifieke vrae of kommentaar lewer op persoonlike situasies, toepaslike diagnose of behandeling nie, of andersinds kliniese opinies lewer nie. As jy dink dat jy onmiddelike hulp nodig het, kontak asseblief jou plaaslike dokter/ sielkundige/ psigiater of die SADAG Geestesgesondheids Hulplyn op 011 234 4837. Indien nodig, kontak asseblief die Selfmoordkrisislyn by 0800 567 567 of sms 31393.