Vir die volgende paar weke gaan ek ‘n bietjie praat oor die gehate O-woord. Dis reg, die een wat die meeste van ons soos pes vermy. OEFENING of Fisiese Aktiwiteit.
Ons is in die eerste week van Februarie, die tyd waarin ons ons nuwejaarsvoornemens hersien. En die algemeenste een, miskien nie verbasend nie, is om meer te oefen. Tog bewys navorsing dat baie min mense hulle by die voorneme om te oefen hou, met die meeste wat al teen middel Januarie tou opgegooi het.
Die meeste mense dink dat as hulle wil oefen, hulle lidmaadskap by ‘n gym nodig het en dat hulle sal moet tyd maak vir gewigte optel, maratons hardloop en emmers vol sweet. En die prentjie wat hulle in hulle koppe het oor oefening, is een van marteling, pyn en opoffering.
Maar voordat ons verder gaan, moet jy meer van my weet. Ek was daardie lomp kind wat LO gehaat het. My voete was gebreklik en na binne gedraai en ek het letterlik oor my eie voete geval as ek harloop. Nadat ek as negejarige geopereer is en my voete baie mooi herstel het, het ek dit as verskonig gebruik, 'n brief van my huisarts gekry en net nooit weer LO gedoen nie. As gevolg hiervan kan ek nie 'n bal vang of bollemakiese slaan nie, want ek het my kanse om daardie spesifieke vaardighede te ontwikkel nooit benut nie.
Soos ons deur die lewe gaan, verander ervarings ons denke en die manier waarop ons leef, dramaties. Maar deur hierdie kanse raak te sien om 'n klein veranderinge aan te bring, kan 'n groot impak op ons lewens hê. Vir my was dit 'n tsoenami. Onthou jy nog die tsoenami van Kersfees 2004? Ek was nie persoonlik daar nie, maar my dogters was destyds nog klein. Toe ek lees van al die dapper ouers wat hul kinders probeer red, het ek myself en my lewenstyl krities beskou. As ek my dogters se lewens moes red deur hulle te dra of ure lank vas te klou, sou ek dit nie kon doen nie. Die volgende oggend het ek vir die eerste keer in my lewe gaan stap vir oefening - en na 400 m het ek gevoel ek gaan dood... maar ter wille van my kinders het ek aangehou.
En soos dikwels in die lewe gebeur, voel dit soms asof die heelal ons lei tot waar ons moet wees - of ons nou wil of nie ...
My man, ook 'n dokter, wou sportgeneeskunde studeer, en vir jare kon hy nie inkom nie. ‘n Rukkie na my eerste tree om fikser te word, sien ek dat een van ons universiteite se Sport- en Oefengeneeskunde-program weer oop is vir aansoeke. Omdat een van my sterk punte liefde vir studeer is (en ek geweet het dat ek hom sal moet help met sy navorsing), het ek ook aansoek gedoen. En ná al jare waarin hy nie kon plek kry nie, is hy aanvaar. En tot my verbasing het ek ook plek gekry.
En dit bring my tot hier. 'n Sport- en Oefengeneeskundige en nog steeds dieselfde lomp kind wat LO gehaat het (en glo my, ek is nog steeds net so lomp). Ek is nog steeds stadig en as ek hardloop, lyk ek soos 'n gelukkige seekoei van agter af.
My kinders is groot - en hulle moet nou fiks bly om my kan te red – maar met my hulp, want ek fikser is as wat ek op 20 en 30 was. Ek weet dat die gruwels van skool-LO verby is, maar ek moet myself gereeld herinner dat ek nie geoordeel word nie. Om fiks te wees, gaan nie om kinders red of om iemand anders te beïndruk nie. Die enigste persoon wat ek moet red en beïndruk, is myself.
Fisiese aktiwiteit en oefening is lewensreddend, want ons sit onsself dood. Daar is 'n rede waarom daar gesê word dat sit die nuwe rook is. Ons sittende leefsstyl word gekoppel aan 'n toename in diabetes, hartsiektes, vetsug en 'n korter lewe. Fisiese onaktiwiteit veroorsaak net soveel sterftes as om te rook. Dit is passief en dodelik.
En daar is 'n oplossing. Dit is gratis, eenvoudig en het omvattende sosiale en ekonomiese voordele. Beweeg net elke dag 'n bietjie meer.
Maar soos ek, het jy waarskynlik tonne verskonings om nie fisies aktief te wees nie - onthou egter dat ek die meeste van hulle self gebruik het. Kom ons loer na 'n paar verskonings om nie te beweeg nie:
Ek is nie die sportiewe tipe nie: jy voel dalk angstig as jy dink aan 'n gym of oefenklasse - en baie van ons het aaklige herinneringe aan skolesport. Maar om fisies aktief te wees, hoef jy nie sport vir oefening te doen nie; daar is baie aktiwiteite wat jy kan doen sonder om naby 'n gym te kom.
Ek voel selfbewus oor my lyf: jy is nie alleen nie - baie van ons voel ook so oor ons lywe. En almal moet êrens begin - soos om te gaan stap. Of neem deel aan aparte oefeningsessies vir mans en vrouens.
Ek weet nie waar om te begin nie: jy hoef nie aan die diep kant in te duik nie - kies iets waarmee jy gemaklik voel om mee te begin. Daar is baie keuses om aktief te raak wat nie ‘n arm en been kos nie.
Ek het nie genoeg selfvertroue nie: dit kan aanvanklik erg wees om iets nuuts te begin of om tussen mense te wees wat jy nie ken nie. Maar met verloop van tyd gaan jy sien dat jou selfvertroue verbeter namate jy fikser word en jou vaardighede beter raak.
En die beste verskoning ooit het een van my kinders gebruik: “Ek hou nie daarvan om moeg te word en te sweet nie”, het sy gesê, "en oefening maak my moeg en laat my sweet!" Ek het net my oë gerol – dit is immers die doel van oefening!
As Sport- en Oefeningsgeneeskundige beskou ek oefening as uiters belangrike medisyne in my dokterssak. Maar in teenstelling met baie medisyne, het oefening omtrent geen newe-effekte as dit op die regte manier onder toesig van ‘n dokter gedoen word nie.
Ek en Zenzile Life span is passievol om mense te bemagtig om aktief en gesond te leef. Ons harte, spiere, immuunstelsel en brein baat daarby as ons gereeld beweeg, veral soos ons ouer word. Vergeet jou verskonings. Jy is nie te oud nie. Jy is nie te onfiks nie. Gaan praat met jou dokter. Begin met 'n aërobiese oefenprogram wat vir jou hanteerbaar en vol pret is, sodat jy beseringsvry en gemotiveerd kan bly. Hou daarby en geniet die beloning van ‘n gesonder lewe en brein vir die res van jou lewe.
Hierdie blog plasing is slegs ter inligting. Dit moet nie as terapie beskou word nie. Hierdie blog is slegs vir inligting en opvoedkundige doeleindes en moet nie as terapie of enige vorm van behandeling beskou word nie. Ons kan nie reageer op enige spesifieke vrae of kommentaar lewer op persoonlike situasies, toepaslike diagnose of behandeling nie, of andersinds kliniese opinies lewer nie. As u dink dat u onmiddelike hulp nodig het, kontak asseblief u plaaslike dokter/ sielkundige/ psigiater of die SADAG Geestesgesondheids Hulplyn op 011 234 4837. Indien nodig, kontak asseblief die Selfmoordkrisislyn by 0800 567 567 of sms 31393.