Return to site

Kweek Bewustheid @ werk

Dr Retha Jansen Van Rensburg. Oktober 2019

· Werk,Verstand

As 'n besige beroepsvrou het ek gedink dat ek alles kan doen. Ek was voldag ‘n GP in ‘n besige praktyk, en by die huis het daar ’n man en kinders gewag. En saam met dit het ek in die aand en oor naweke gewerk aan ‘n meestersgraad. My taaklys was nie net vol nie, hy was oorvol!

Voel jy, soos ek en baie ander dat jy onder al die druk verdrink? Ons leef in uitdagende tye. Die mens is slegs sowat 200 000 jaar op aarde, maar die afgelope 15-20 jaar leef ons in 'n toenemende digitale samelewing wat ons al hoe meer aandagafleibaar laat word.

Ons werk beslaan die meeste van die ure wat ons wakker is, betaal rekeninge en as ons gelukkig is, kan dit selfs betekenis aan ons lewens gee. Maar vir die oorgroote meerderheid is die plek waarheen ons gaan om ons daaglikse brood te verdien ‘n plek van groot spanning, angs en ontevredenheid: vol van sperdatums, e-posse, telefoonoproepe, vergaderings en veeleisende gesprekke. Ongeag van wat se werk jy doen, die werksplek kan angswekkend wees.

As ons na navorsingsdata in die werksplek kyk sien ons dat daar ‘n geweldige gebrek aan betrokkenheid is. Slegs 13% van mense is aktief betrokke by hulle werk en 'n kwart van werkers is glad nie betrokke nie. Dit geld ook vir ons daaglikse lewe. Mense leef nie meer nie, hulle bestaan ​​net. Dit beteken dat mense ongelukkig is terwyl hulle by die werk en huis is.

Om rustig en met Bewustheid te leef te nie iets wat ons gewoonlik met die werksplek vereenselwig nie. Maar die afgelope paar jaar het 'n aantal bekende ondernemings Bewustheids-programme vir hul werknemers geïmplementeer. Apple, Google en Nike het selfs hul eie opleidingsprogramme vir Bewustheid vir werknemers ontwikkel en hulle daarin begin onderrig.

Een van die maniere waarop Bewustheid ons by die werk kan help, is bloot deur ons fokus te verbeter. As ons aanhoudend van een taak na ‘n ander spring, kan die kwaliteit van ons werk afneem. Bewustheid – om bewus te wees van hierdie oomblik sonder om te oordeel - is 'n eenvoudige metode wat tot almal se beskikking is. Dit is 'n manier om jou gedagtes te herprogrammeer om op gesonder, minder stresvolle maniere te kan dink. Deur Bewustheid te beoefen - deur net weer en weer na hierdie oomblik terug te keer - kan ons onsself leer om beter te fokus. Navorsing het getoon dat dit ook 'n betroubare manier is om die stressors in die lewe te verminder, by die huis en ook by die werk.

Harvard-wetenskaplikes het gevind dat Bewustheid jou breinstruktuur definitief verander. Neurowetenskap toon dat om daagliks met Bewustheid te leef die breinareas wat met aandagregulering te make het, kan verbeter.

‘n Bewustheids-oefening wat nuttig is wanneer jy 'n besondere stresvolle tyd beleef en voel asof jy fokus verloor, is S.T.O.P.

Probeer dit gerus. Nou dadelik.

  • Stop. Neem net 'n kort breuk, maak nie saak waarmee jy besig is nie.
  • Asem-Teug. Haal asem. Laat die sensasie van jou eie asemhaling jou terugbring na die hierdie oomblik.
  • Observeer en neem waar. Herken jou emosies en sensasies, goed of sleg. Raak net bewus daarvan.
  • Progresseer. Nadat jy kortliks bewus geraak het van die huidige oomblik, gaan aan met wat jy besig was om te doen.

Saam met die verbeterde fokus wat spruit uit Bewustheid, is daar nog 'n aantal ander voordele wat bydra tot algehele welstand by die werk.

Bewustheid verminder emosionele uitputting, stresvlakke en sielkundige nood; dit verminder depressie en angs, en ook beroepsstres. Verder verbeter dit slaapkwaliteit, verhoog kreatiwiteit en laat jou toe om meer deernis vir jou self en ander te hê.

Hier is nog 'n paar maniere waarop jy oomblikke van Bewustheid in jou dag kan inwerk om sodoende die spanning na liggaam en gees minder te maak.

As jy môreoggend by die kantoor aankom, neem tien minute by jou lessenaar om jou brein 'n hupstoot te gee met 'n kort Bewustheidsoefening voordat jy die dag aanpak. Maak jou oë toe, ontspan en sit regop. Plaas jou volle fokus op jou asemhaling. Let net op wat gebeur as jy asem haal: asem in, asem uit; asem in en asem uit. Om op jou asemhaling te bly fokus kan jy tot vyf of ses tel terwyl jy uitasem. Bring jou aandag en fokus terug na jou asemhaling wanneer jy voel dat jou gedagtes begin afdwaal. Geniet hierdie tien minute wat jy vir jouself het. Deur die loop van die dag veg mense en mededingende dringende sake om jou aandag. Maar vir hierdie tien minute is jou tyd en aandag net joune.

Daar is baie meer maniere om Bewustheid by die werk te kweek, insluitend:

Wees ‘n een-ding-doener. Niemand kan eintlik multi-task nie. Wanneer jou brein waansinnig oorskakel van een ding na die ander, gaan daar gewoonlik data verlore in die proses.

Gaan stap met Bewustheid. Fokus terwyl jy stap deur jou tempo te vertraag en die grond onder jou voete te voel.

Eet jou middagete met Bewustheid. Moenie by jou lessenaar, voor 'n rekenaar of in jou motor eet nie. Soek 'n plek waar jy gemaklik kan sit en jou energie en aandag op jou middagete kan vestig. Proe regtig jou kos.

Spandeer elke dag ten minste 5 minute van jou tyd aan niks doen.

Maak kontak met jou sintuie deur na die temperatuur van jou vel en agtergrondsgeluide rondom jou op te let.

Soos die dag aangaan en jou brein begin moeg raak, kan Bewustheid jou help om skerp en helder te bly en swak besluite te vermy. Stel jou telefoon om na middagete elke uur te lui. As die foon lui, hou op met wat jy doen en beoefen vir een minuut Bewustheid. Hierdie Bewustheidsonderbrekings in jou dag sal help om nie robotagtig te bestaan nie en keer dat jy in aksie-verslawing verval.

En dan, wanneer jou werksdag tot 'n einde kom en jy begin om huis toe gaan, eindig jou dag soos dit begin het. Bewustheid moenie ophou sodra jy jou skootrekenaar toemaak of die kantoor se deur agter jou toetrek nie. Skakel jou telefoon vir tien minute af, skakel die radio af en wees net vir ‘n paar minute. Laat gaan enige gedagtes wat by jou opkom. Plaas jou volle fokus op jou asemhaling. Let net op wat gebeur as jy asem haal: asem in, asem uit; asem in en asem uit. Deur dit te doen, laat jy die spanning van die dag vaar en kan jy terug huis toe gaan om dan ten volle by jou gesin te wees.

Volgens die Harvard Business Review, moet Bewustheid nie meer slegs as 'n “lekker-om-hê” vir bestuurders beskou word nie. Dit is 'n 'moet-hê': 'n manier om ons breine gesond te hou, om selfregulering en effektiewe besluitnemingsvermoëns te ondersteun, en om ons teen toksiese spanning te beskerm. Bewustheid gaan nie daaroor om rustig te leef nie. Dit gaan om die verbetering van fokus en waarneming, by die werk asook in ons daaglikse lewens. Dit gaan om ontslae raak van afleidings en om op koers te bly met jou eie sowel as organisatoriese doelwitte. As ons gaan sit, asem haal en ons daartoe verbind om Bewus te wees, kan ons verander.

Begin dus vandag. Ons by die Zenzile Life wil hê dat jy elke dag 'n paar Bewuste oomblikke deur jou dag moet neem. Hou op met wat jy doen, maak jou oë toe, ontspan en haal 'n paar keer diep asem. Asem in… Asem uit… Glimlag. Dit is 'n uitstekende manier om te begin om met Bewustheid te leef.

broken image

Hierdie blog plasing is slegs ter inligting. Dit moet nie as terapie beskou word nie. Hierdie blog is slegs vir inligting en opvoedkundige doeleindes en moet nie as terapie of enige vorm van behandeling beskou word nie. Ons kan nie reageer op enige spesifieke vrae of kommentaar lewer op persoonlike situasies, toepaslike diagnose of behandeling nie, of andersinds kliniese opinies lewer nie. As u dink dat u onmiddelike hulp nodig het, kontak asseblief u plaaslike dokter/ sielkundige/ psigiater of die SADAG Geestesgesondheids Hulplyn op 011 234 4837. Indien nodig, kontak asseblief die Selfmoordkrisislyn by 0800 567 567 of sms 31393.

Hierdie blog plasing is slegs vir inligting. Dit moet nie as terapie beskou word nie. Hierdie blog is slegs vir inligting en opvoedkundige doeleindes en moet nie as terapie of enige vorm van behandeling beskou word nie. Ons kan nie reageer op spesifieke vrae of kommentaar oor persoonlike situasies, toepaslike diagnose of behandeling nie, of andersins enige kliniese opinies verskaf nie. As u dink dat u onmiddellike hulp benodig, skakel u plaaslike dokter / sielkundige of psigiater of die SADAG Geestesgesondheidslyn by 011 234 4837. Indien nodig, skakel asseblief die Selfmoordkrisislyn by 0800 567 567 of sms 31393.