Om oor jou probleme te praat, kan intimiderend en senutergend wees. Om uitdagende gesprekke te bemeester, verg oefening. Sodra jy leer om met selfvertroue te kommunikeer, sal hierdie situasies baie minder stresvol wees. Dit is vertroostend om te weet dat jy selfs in veeleisende situasies in staat is om jou gedagtes en idees op 'n rustige en versamelde manier uit te spreek.
Gesprekke Met Moeilike Mense
As jy 'n mense-mens is, gaan jy dikwels moeilike mense teëkom. Dit is byvoorbeeld mense wat geensins sal toegee nie. Hulle is onredelik en sal waarskynlik oor alles kla. Hoe kan jy hierdie tipe mense hanteer?
Sommige mense raak apaties in hul omstandighede. Vra vrae aan hierdie persoon. Vind uit wat het veroorsaak dat hulle nie meer omgee nie soos wat hulle in die verlede het nie.
Vir ander wat bloot 'n slegte gesindheid het, moet jy hierdie situasie meer delikaat hanteer. Die een ding wat jy nie wil doen nie, is om net geredelik aan hulle toe te gee. Soms gee mense in omdat die ander persone harder praat. Jy kan saam met hul stem as die oplossing die regte een is, nie net omdat hulle die hardste praat nie.
Een van die oplossings in die hantering van moeilike mense is om alternatiewe oplossings te hê. As iemand byvoorbeeld kla dat 'n spesifieke oplossing nie sal werk nie, vra hul eers hoekom hul so dink. As hulle met 'n geldige rede vorendag kom, bied dan alternatiewe. As hulle aanhou om elke voorstel wat jy maak af te skiet, vra hulle om met 'n oplossing vorendag te kom.
Die Bestuur Van Emosies
Emosies kan soms oorweldigend wees tydens moeilike gesprekke, daarom is dit belangrik om dit doeltreffend te bestuur. Die beoefening van bewustheidstegnieke (“mindfulness”) soos diep asemhaling en ander ontspanningsoefeninge (bv. “grounding” tegnieke”) kan jou help om kalm te bly. As emosies te intens raak, is dit goed om 'n kort pouse te neem om af te koel voordat jy met die bespreking voortgaan. Alhoewel dit belangrik is om emosies uit te druk, is dit net so belangrik om dit met respek te doen. Om te verhoed dat die gesprek in konflik eskaleer, vermy blaam, kritiek en die verkleinering van die ander persoon tydens die gesprek.
Luister Na Almal In Die Gesprek
Moeilike gesprekke hoef nie eensydig te wees nie. Om met ander te deel, behels ook om te luister na ander. Wees 'n goeie luisteraar en wees oop vir die menings en idees van die persoon met wie jy praat. Afhangende van die emosionele vlak van die gesprek, kan dit moeilik wees. Oefen beheer en selfbeheersing uit en luister aandagtig na die persoon wat praat. Dit sal jou kommunikasie verbeter. Al hou jy dalk nie van wat jy hoor nie, leer jy dikwels nuwe dinge deur na ander te luister. Dit kan jou dalk ook help om op `n nuwe manier te dink en om sodoende selfs nuwe gedagtes te aanvaar.
Vind Gemeenskaplike Grond
Fokus op die vind van gemeenskaplike grond en werk na wedersyds voordelige oplossings. Dit sluit in die bereidwilligheid om kompromieë aan te gaan en die ander persoon se behoeftes saam met jou eie te oorweeg. Dit is belangrik om gesprekke met 'n probleemoplossende ingesteldheid te benader, eerder as 'n wen-verloor-fokus. Om saam oor oplossings te dink en om oor uitvoerbare stappe ooreen te kom, sal meer effektiewe resultate lewer en jul verhouding versterk.
Opvolg En Reflekteer
In sekere omstandighede kan dit voordelig wees om te reflekteer oor wat bespreek is en om na te dink oor watter ooreenkomste gemaak is. Om mekaar terug te bel na 'n rukkie sal verseker dat beide partye op dieselfde bladsy bly en dat die oplossing doeltreffend geïmplementeer word. Hierdie opvolg versterk jou verbintenis tot die oplossing en toon volgehoue sorg en belangstelling in die verhouding.
Probeer om in enige situasie kalm, respekvol en beleefd te bly. Uitdagende gesprekke, wanneer dit korrek en positief hanteer word, kan tot beter kommunikasie en sterker verhoudings lei.
Hierdie blog plasing is slegs ter inligting. Dit moet nie as terapie beskou word nie. Hierdie blog is slegs vir inligting en opvoedkundige doeleindes en moet nie as terapie of enige vorm van behandeling beskou word nie. Ons kan nie reageer op enige spesifieke vrae of kommentaar lewer op persoonlike situasies, toepaslike diagnose of behandeling nie, of andersinds kliniese opinies lewer nie. As jy dink dat jy onmiddelike hulp nodig het, kontak asseblief jou plaaslike dokter/ sielkundige/ psigiater of die SADAG Geestesgesondheids Hulplyn op 011 234 4837. Indien nodig, kontak asseblief die Selfmoordkrisislyn by 0800 567 567 of sms 31393.