Return to site

Boelie – raad aan ouers en kinders.

Dr. Elizma van der Smit Oktober 2017

· Verhoudings,Lewensvaardighede
  1. Raad aan ouers wie se kinders geboelie word.  Hoe leer jy jou kind om selfgeldend op te tree?

Die meeste ouers voel kwaad wanneer hul kinders geboelie word, maar dit is egter baie belangrik om nie te oorreageer nie. Beplan positiewe stappe om die probleem op te los. Hier volg ‘n paar aanbevelings:

  • Luister sonder om kwaad te word.  Sit jou eie gevoelens eenkant en luister na jou kind.
  • Vra jou kind “hoe wil jy hê dat ek dit moet verder opneem?”, laat hul deel voel van die proses.  Dit is dan ‘n gesprek oor die saak eerder as ‘n situasie waar kind nou deur sy ouer geboelie voel om op ‘n seker manier op te tree.
  • Verseker jou kind dat dit nie hul skuld is nie.  Baie kinders voel dat hul die boelie oor hulself gebring het, maar herhinner jou kind aan bekendes wat ook geboelie is.
  • Moedig jou kind aan om te lyk asof hul selfvertroue het, al voel hul nie so nie.  Gebruik ‘n harder stemtoon en ‘n regop houding met ‘n reguit kyk.
  • Gee die indruik dat jy nie “gepla” is nie.  Boelies wil graag ‘n reaksie uit jou uit kry.  Moenie woede of bangheid wys nie.
  • Help om jou kind se selfbeeld te bou deur hul aan te moedig om aan aktiwiteite deel te neem of om ‘n nuwe stokperdjie aan te neem.
  • Moenie jou kind aanmoedig om ook ‘n boelie te wees nie.
  • Moenie vir jou kind sê om dit bloot “te ignoreer” nie.
  • Nadat jy al die feite gekry het, kontak die skool vir ‘n afspraak.  Bespreek dit kalm met die betrokke persoon/onderwyser en werk saam ‘n oplossing uit.  Hul het waarskynlik ‘n beleid oor hoe om op te tree en sal hopelik die ouers kontak.
  • Ingeval van ernstige fiskieke boelie, neem fotos en gaan sien die dokter en die polisie.
  • As die boelie nie ophou nie, verander skole.
  • Moenie skroom om professionele hulp vir jou kind te kry nie.
  1. Raad aan kinders wat geboelie word
  • Sê iets onverwags soos byvoorbeeld: “ Ek sal dus met dom-wees moet saamleef  en jy is een van die slimste mense in die wêreld!  Good for you!”.
  • Wees onvoorspelbaar en verander jou roetine gedurig as jy kan.  Selfs 5 minute kan ‘n verskil maak.
  • Bly binne ‘n groep soveel as jy kan.  “Safety in numbers.”
  • Bly kalm en behou oogkontak met die boelie.  Moenie wegkyk of aanvanklik wegloop nie.
  • Praat met ‘n sterk, ferm stem.  Gebruik sinne soos “hou op om my te pla” of “whatever” en stap kalm weg.
  • Vermy plekke waar die boelie gewoonlik plaasvind.
  • Moenie wys dat jy ongelukkig en hartseer is nie.
  • Maak ‘n grappie en lag vir jouself.  As hul byvoorbeeld jou hare spot, sê iets soos “ja ek het dit in die stofsuier gekry vanmore!”.  Sodoende neem jy die boelie se krag weg.
  • Vertel ‘n onderwyser of ander volwasse persoon wat jy vertrou.
  • As jy voel jy kan nie met iemand praat nie, skryf dit neer en gee dit vir ‘n volwassene wat jy vertrou.
  • Boelies is baie goed daarmee om mens te laat dink dat jy dit verdien om geboelie te word.  Dit is heeltemal verkeerd.  Herhinner jouself daaraan dat jy respek van ander verdien.
  • Gebruik die mistenk.  Verbeel jouself jy is binne ‘n groot vistenk wat met wit mis gevul is.  Verbeel jou dat die beledigings ingesluk word deur die mis voordat dit jou bereik.  Niks raak aan jou nie.
  1. Raad aan kinders wat sien hoe ander kinders geboelie word.
  • Moenie net staan en kyk nie.  Jy bemagtig die boelie deur ‘n gehoor te skep en dit is dikwels wat die boelie graag wil hê.
  • Vertel die boelie om te stop!  Sodoende laat jy hom en die ander bystaanders weet dat wat hier gebeur, nie reg is nie.
  • Moenie tot die bakleiery toetree en self met die boelie baklei nie.  Dit mag gevaarlik wees en ook die situasie vererger vir die persoon wat geboelie word.
  • Rapporteer die boelie aan ‘n volwassene wat jy vertrou.
  • Maak vriende met die die slagoffer en bly naby hom of haar om hul te beskerm.
  1. Hoekoms word kinders boelies?

Die antwoord is eenvoudig. Boeliegedrag los hul sosiale probleme op. Dit is makliker om iemand te boelie eerder as om probleme uit te sorteer, of gevoelens te hanteer. Boelie is die “maklike uitweg” wat kinders maklik aanneem.

Nog redes waarom kinders boelies word:

  • ‘n Lae selfbeeld
  • Vrees vir uitsluiting uit ‘n groep.
  • Om aanvaarding en aandag van vriende te kry.
  • Hul gevoelens van kwaad en/of hartseer te hanteer of weg te steek.
  • Hul word dalk self geboelie.
  • Onbetrokke ouers, m.a.w. dit is kinders wat dalk nie genoeg liefde en warmte in hul ouerhuis ervaar nie.
  •  ‘n Gebrek aan duidelike reëls en onvoldoende supervisie.
  • Aggressiewe gedrag binne die gesin.  Kinders leer aggressiewe gedrag binne die gesin wanneer hul byvoorbeeld deur ouer sibbe of ouers geboelie word.  Aggressiewe gedrag is vir hul dus aanvaarbaar en normaal.
  • Boelies maak vriende met boelies en hul versterk mekaar in die kwaad.
  • Baie kinders boelie, nie agv huislike omstandighede nie, maar omdat hul kan.  Daar is selfs ‘n verband tussen die populariteit van ‘n kind en die geweld wat hy/sy gebruik om sy/haar mag ten toon te stel.
  1. Raad aan ouers oor hoe hul dit kan vermy dat hul kinders geboelie word.

Ons as ouers kan nie ons kind se omstandighede beheer nie, maar daar is ‘n paar dinge wat ons kan doen om die kanse te verminder dat my kind by boeliery betrokke sal raak – as toeskouer, as boelie of as slagoffer.

  • Leer jou kind van boelie selfs van ‘n baie vroeë ouderdom af.  ‘n Kind moet weet wat ‘n boelie is en dat die gedrag nie aanvaarbaar is nie.  ‘n Boelie is iemand wat: jou dwing om dinge te doen wat jy nie wil nie, wat ander mense seermaak of hul goed vat of breek.  ‘n Boelie is ook iemand wat ander mense lelike name noem.  Maak dit duidelik dat sulke gedrag nie in jou huis geduld word nie.
  • Kweek ‘n kultuur van aanspreeklikheid.  Dit beteken jou kind is aanspreeklik vir hoe hy met jou of sy sibbe praat en hoe hy ander gesinslede hanteer.  Wanneer jou kind sy sibbe boelie, moenie ontspoor word deur hul verskonings nie.  Net omdat jy ‘n slegte dag by die skool gehad het, gee jou nie die reg om iemand anders sleg te behandel nie.  Moenie toelaat dat jou kind ander mense of omstandighede blameer vir hul swak gedrag nie. 
  • Leer jou kind die sosiale vaardighede wat hy nodig het.  Kinders moet leer hoe om sosiale probleme op te los en om hul emosies te hanteer.  Hou besprekings met vrae soos “wat maak jy as die kinders nie saam met jou wil speel nie?”.  Wat maak jy as kinders lelik is met jou?”.  Wat doen jy as jy reg is en ander is verkeerd en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie?”.  Jou kind moet leer hoe om konflik te hanteer, hy moet leer om ‘n kompromie te bereik, hoe om op te offer, hoe om met onregverdigheid om te gaan.  Kinders moet ook leer hoe om hul impulse te beheer.  Jy kan nie net slaan as jy so voel nie.  Kinders moet ook leer hoe om sosiale situasies reg te lees en dienooreenkomstig op te tree.
  • Help om jou kind se selfesteem te bou. Jou kind se selfesteem is sy basiese gevoel van selfwaarde.  Dit gaan nie daaroor om beter as ander te wees nie, maar om te voel dat jy in staat is om die op en af van die lewe te kan hanteer en die wete dat jy belangrik is en na jouself moet kyk.  Selfesteem affekteer hoe kinders dink en optree.  ‘n Kind met ‘n goeie selfesteem het nie nodig om ander te domineer om goed te voel nie – en hul is ook in staat om op te staan vir hulself as dit nodig is.

Ontwikkel jou kind se selfesteem deur:

  • Hul keuses te gee maw wat wil jy vir ontbyt hê?  Eiers of pannekoek?  Dit leer hul om keuses te kan maak.
  • Moenie alles vir jou kind doen nie, maar wees geduldig dat hul dit vir hulself uitwerk.
  • Moenie van jou kind verwag om perfek te wees nie.  Hoe jy teenoor jou kind se foute reageer is baie belangrik.
  • Prys slegs op verdienste.
  • Gee vir hul ouderdomstoepaslike take.  Dit kweek verantwoordelikheid en verhoog gevoelens van selfwaarde.
  • Moenie jou kinders vergelyk nie.
  • Spandeer genoeg tyd met jou kind.
  • Moedig aktiwiteite aan wat hul kennis verbreed en selfvertroue skep.
broken image
Hierdie blog plasing is slegs vir inligting. Dit moet nie as terapie beskou word nie. Hierdie  blog is slegs vir inligting en opvoedkundige doeleindes en moet nie as terapie of enige vorm van  behandeling beskou word nie. Ons kan nie reageer op spesifieke vrae of kommentaar oor  persoonlike situasies, toepaslike diagnose of behandeling nie, of andersins enige kliniese opinies  verskaf nie. As u dink dat u onmiddellike hulp benodig, skakel u plaaslike dokter / sielkundige of  psigiater of die SADAG Geestesgesondheidslyn by 011 234 4837. Indien nodig, skakel asseblief die Selfmoordkrisislyn by 0800 567 567 of sms 31393.
Hierdie blog plasing is slegs vir inligting. Dit moet nie as terapie beskou word nie. Hierdie blog is slegs vir inligting en opvoedkundige doeleindes en moet nie as terapie of enige vorm van behandeling beskou word nie. Ons kan nie reageer op spesifieke vrae of kommentaar oor persoonlike situasies, toepaslike diagnose of behandeling nie, of andersins enige kliniese opinies verskaf nie. As u dink dat u onmiddellike hulp benodig, skakel u plaaslike dokter / sielkundige of psigiater of die SADAG Geestesgesondheidslyn by 011 234 4837. Indien nodig, skakel asseblief die Selfmoordkrisislyn by 0800 567 567 of sms 31393.