Return to site

Definisie Van Bewustheid (Mindfulness): 8 Dinge Wat Bewustheid Nie Is Nie

Dr Retha Jansen van Rensburg. September 2019

· Lewensvaardighede,Verstand
broken image

Onthou jy dat John Lennon gesing het van die lewe wat gebeur terwyl ons besig is met ander planne? Miskien het hy voorgestel dat ons eerder 'n bewuste bestaan ​​moet kies voor ons neigings om op robot te leef.

In ons woelige wêreld raak meer van ons al hoe meer bewus dat gemoedsrus so skaars soos hoendertande raak. Ons hardloop onsself gedaan om by te bly by ons taaklys en ons besef dikwels nie hoe ons van punt A tot punt B gekom het nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku ons dat depressie teen 2020 die tweede grootste oorsaak van siektes in die wêreld sal wees (naas kardiovaskulêre siektes). Angsversteurings is ook aan die toeneem. Dit wil voorkom asof daar geen einde aan ons gejaagde leeftyl is nie. In ons binneste weet ons egter dat iets iewers sal moet verander.

Bewustheid het 'n nuwerwetse gonswoord geword wat oral op die internet gevind word. As jy dit Google kry jy duisende treffers. Maar dit is veel meer as net 'n gier. Dit help om ons besige denke en lewens rustiger te maak, en doen dit al vir eeue lank. Bewustheid is 'n manier om in elke oomblik te lèèf.

Ek het jou verlede week vertel dat daar wetenskaplike bewyse is, dat as jy bewus leef, daar 'n wye verskeidenheid fisiese, emosionele en sielkundige lewensveranderende voordele vir jou is, sodat jy jou lewe kan geniet. En die week voor dit het ons saamgestem dat dit wonderlik sou wees om van ons taaklys te ontsnap. Maar ek het nog nie Bewustheid gedefinieer nie.

Wat Bewustheid nie is nie

Dit is egter net so belangrik om te verstaan ​​wat bewustheid nie is nie. Wat bewustheid is en nie is nie, word in 'n groot mate verkeerd vertolk. Ek wil graag die misverstande uit die weg ruim voordat ons nader na die definisie van bewustheid gaan kyk.

Bewustheid is nie:

1. 'n Godsdiens nie-hoewel dit van Boeddhisme afkomstig is, is dit nie-godsdienstig nie. Niemand besit bewustheid nie. Dit is nie inherent misterieus of geestelik nie. Bewustheids-praktyke is van nut vir alle mense, ongeag hul geestelike of godsdienstige agtergrond of oortuigings.

2. Net meditasie nie— hoewel meditasie 'n ongelooflike en uiters kragtige manier is om bewustheid te beoefen, is dit nie die enigste manier om meer bewus te wees nie. Bewustheid is nie 'n sinoniem vir meditasie nie. Daar is baie verskillende maniere om bewustheid te beoefen.

3. 'n Manier om perfek te wees nie– jy kan nie “verkeerd” bewus wees nie; bewustheid is nie 'n tegniek nie. Bewustheid is nie iets wat jy doen nie. Dit is 'n manier van wees. As jy bewus is, is die idee om in hierdie oomblik te leef en om dié oomblik op joumanier te beleef.

4. 'n Toeskouersport nie— al is bewustheid 'n eenvoudige konsep is dit nie makliker gesê as gedaan. Dit verg aanhoudende aandag om op te let waar ons gedagtes heeldag is. Bewustheid verg daaglikse oefening.

5. Dit is onmoontlik om jou brein te keer om te dink!– Bewustheid beteken nie dat jy ophou dink nie. Jou brein vorm gedagtes; dit is waarvoor hy brein geskape is, en ons gedagtes hou aan vorm, selfs al mediteer ons. Eerder as om van jou gedagtes “ontslae te raak", beteken die beoefening van bewustheid om bewus te wees van jou gedagtes, en dit terug te bring na die huidige oomblik as dit afdwaal na gister of more.

6. Om te ontsnap van die werklikheid nie — presies die teendeel is waar, as ons bewus leef kan ons na ons gedagtes, gevoelens en oortuigings kyk met groot deernis en nuuskierigheid. Sodoende kan ons sonder skuldgevoelens en bekommernisse bewus wees van ons gedagtes. En dan kan ons ons probleme makliker hanteer. Dit is altyd goed om onsself te herinner dat gedagtes net ... gedagtes is.

7. Tydsintensiefnie - soos voorheen genoem, is die deurlopende beoefening van bewustheid die einddoel. Om bewus te leef neem nie baie tyd in beslag nie. Om bewus te leef is om dinge doelbewus te doen, selfs al voel dit vir ons asof tyd vir ons weghardloop. Jy kan elke oomblik in die oomblik leef. Jy hoef ook nie in 'n grot of ashram te gaan bly om bewusl te leef nie.

8.Net vir ‘n paar uitverkorenes nie - dit is moontilik vir enige iemand om bewus te leef. Daar is nie net sekere mense wat dit nuttiger of makliker vind nie. As jy asemhaal, kan jy bewus leef.

Wat is Bewustheid dan?

Bewustheid is eintlik baie eenvoudig. Dit beteken om bewus te wees van waar jy is en wat jy in elke oomblik doen en dink. Om bewus te wees is om doelbewus aandag te gee aan wat op die oomblik om ons aangaan. Of jy nou stort, met jou lewensmaat praat, met jou kinders speel, aan 'n projek werk of doodeenvoudig niks doen nie.

Maar bewustheid het nog 'n stap - om nie te oordeel nie.

Nie-oordeel is noodsaaklik om die dieper voordele van daaglikse bewustheid te ervaar. Dit vereis dat jy fyn moet oplet na jou gevoel, gedagtes, optrede en gewaarwordinge in jou liggaam, sonder om dit reg of verkeerd, goed of sleg te noem.

Klink eenvoudig, nie waar nie? Dit is egter nie altyd so maklik nie. Ons gedagtes het ‘n neiging om meedoënloos te broei in die verlede of om in more se bekommernis te gaan boer. Die meeste van ons het gesinne, loopbane, verantwoordelikhede en doelwitte. Wat beteken dat jou lewe, soos myne, waarskynlik baie aktief en besig is. Jy het reeds ‘n klomp gewoontes ontwikkel wat direk met ‘n bewuste leefwyse sal bots.

Die paar sekondes wat dit jou geneem het om hierdie kort paragraaf te lees, het jy dalk aan ‘n spul goed gedink. Wat om te maak vir aandete, dat jy 'n tandartsafspraak moet maak, bekommernis oor jou banksaldo, ens., ens.

Hierdie soort “gedagte-strome” - vind oor en oor plaas. Dag in en dag uit.

En dit is ook reg so. Om in die oomblik te wees of om mindful te wees, gaan nie daarom om onsself te oordeel as ons aan die verlede of toekoms dink nie. Die doel is om ons gedagtes sag en rustig terug te bring na die oomblik as ons agterkom dat dit afgedwaal het van wat ons nou ervaar, sonder om reaktief te wees. As ons in die oomblik is, kan ons reageer eerder as om te oorreageer. Kan ons die daaglikse wonders rondom ons waardeer en bewus wees van die emosies wat ons ervaar, in plaas van om deur die lewe oorweldig te word. As ons bewus leef, kan ons voluit leef en ons lewens ten volle geniet.

Vandag, nou, is 'n splinternuwe oomblik wat jy nog nooit vantevore ervaar het nie. As jy nie ‘n oomblik kan stilstaan om dit te waardeer en raaksien nie, verminder jy jou moontlikhede vir die toekoms drasties. Hierdie oomblik gebeur vir die eerste keer. Dit is vol potensiaal. As jy so vasgevang is deur jou oortuigings en bekommernisse van die verlede, reageer jy net op jou lewe in plaas daarvan om dit te lèèf. Jy kan dit verander deur notisie te neem van die oomblikke wanneer jou gedagtes in die toekoms of verlede vasgevang is. Dit is hier waar bewustheid ter sprake kom.

Alhoewel dit alles mag klink soos pseudo - wetenskap, is daar tegnieke wat die tydtoets deurstaan het en wat ons kan gebruik om ons gedagtes aan te moedig om teenwoordig en bewus te bly. Hierdie tegnieke is nie moeilik nie, het geen spesiale toerusting nodig nie, en jy kan baie van hulle oral doen. Ons sal volgende week dieper op hierdie tegnieke ingaan. Vir nou stel ek voor dat jy dit ernstig sal oorweeg om bewus te begin leef. Dit is uit en uit die moeite werd. Jy is immers besig met jou elle-lange taaklys en jy wil nie nog ‘n enkele item byvoeg nie, tensy dit jou sal help om 'n baie gelukkiger, gesonder lewe te lei!

broken image

Hierdie blog plasing is slegs ter inligting. Dit moet nie as terapie beskou word nie. Hierdie blog is slegs vir inligting en opvoedkundige doeleindes en moet nie as terapie of enige vorm van behandeling beskou word nie. Ons kan nie reageer op enige spesifieke vrae of kommentaar lewer op persoonlike situasies, toepaslike diagnose of behandeling nie, of andersinds kliniese opinies lewer nie. As u dink dat u onmiddelike hulp nodig het, kontak asseblief u plaaslike dokter/ sielkundige/ psigiater of die SADAG Geestesgesondheids Hulplyn op 011 234 4837. Indien nodig, kontak asseblief die Selfmoordkrisislyn by 0800 567 567 of sms 31393.

Hierdie blog plasing is slegs vir inligting. Dit moet nie as terapie beskou word nie. Hierdie blog is slegs vir inligting en opvoedkundige doeleindes en moet nie as terapie of enige vorm van behandeling beskou word nie. Ons kan nie reageer op spesifieke vrae of kommentaar oor persoonlike situasies, toepaslike diagnose of behandeling nie, of andersins enige kliniese opinies verskaf nie. As u dink dat u onmiddellike hulp benodig, skakel u plaaslike dokter / sielkundige of psigiater of die SADAG Geestesgesondheidslyn by 011 234 4837. Indien nodig, skakel asseblief die Selfmoordkrisislyn by 0800 567 567 of sms 31393.