Return to site

Hoe om 'n positiewe liggaamsbeeld te  

Dr. Elanza Stephenson 

In 'n wêreld waar fisiese voorkoms dikwels voorgeskryf word deur die samelewing se standaarde, is die instandhouding van 'n positiewe liggaamsbeeld 'n belangrike kenmerk van selfversorging. "Hoe lyk ek?" Mense vra dikwels ander persone om hierdie vraag te beantwoord. Individue met 'n positiewe liggaamsbeeld is egter selfversekerd oor hul voorkoms, ongeag wat ander van hulle dink. In hierdie skrywe verwys die term liggaamsbeeld na 'n mens se gedagtes, persepsie en gevoelens oor hul eie liggaam. Om 'n positiewe liggaamsbeeld te hê, beteken dat jy gemaklik is met jou fisiese voorkoms en besef dat jy meer as slegs jou fisiese eienskappe is.

'n Positiewe liggaamsbeeld begin by selfaanvaarding en selfvertroue. Dit speel 'n belangrike rol in geestesgesondheid en emosionele welstand.

Praktiese stappe en aanbevelings van sielkundiges en dokters om 'n positiewe liggaamsbeeld te bevorder, sluit die volgende in: 

• Waardeer alles wat jou liggaam in staat is om te doen

• Lys die dinge van jouself waarvan jy hou

• Omring jouself met positiewe en ondersteunende mense

• Doen iets wat goed is vir jou liggaam

• Versorg jouself

• Herinner jouself daaraan dat niemand perfek is nie

• Pasop vir advertensies

• Kies en dra klere op grond van jou persoonlike voorkeur

Waardeer alles wat jou liggaam in staat is om te doen 

Jou perspektief bepaal hoeveel jy jou liggaam waardeer. Dikwels baseer mense hul liggaamsbeeld op wat hulle nie kan doen nie, in plaas van wat hulle wel kan doen. Jy kan 'n goeie danser wees, maak nie saak hoeveel jy weeg nie. Littekens en geboortevlekke definieer nie of jy 'n goeie vriend is nie, dit bepaal ook nie of jy verlief sal raak nie. Die kleur van jou oë bepaal nie hoe goed jy kan kook of klavier speel nie. Die manier waarop jy besluit om jou hare te stileer, definieer jou nie akademies nie. Jou liggaam en brein kan groot dinge doen, ongeag hoe jy lyk.

Lys die dinge van jouself waarvan jy hou 

Vermy selfkritiek en negatiewe selfgesprekke en onthou dat jy meer is as slegs hoe jy lyk. Maak 'n lys van 10 dinge waarvan jy van jouself hou wat nie te doen het met hoe jy lyk nie. Glimlag jy gereeld, is jy 'n vinnige leser, of is jy kunstig of vaardig met selfdoen take? Kyk na jouself deur 'n lens van selfdeernis en sien jouself raak as 'n volkome persoon. Fokus dus nie net op jou uiterlike voorkoms nie. Jou houding oor jouself sal waarskynlik weerspieël word in die wyse hoe jy jou liggaamsbeeld beskou, so probeer om jouself met deernis te behandel. Vier jou persoonlike sterk punte. Verskuif die klem na jou persoonlike prestasies en talente eerder as jou fisiese eienskappe.

Omring jouself met positiewe en ondersteunende mense

Vind vriende wat jou aanvaar vir wie jy is, en nie vir hoe jy lyk nie. Omring jouself met positiewe invloede. Beperk tyd met mense wat obsessief oor hul voorkoms is en wat jou sleg oor jouself laat voel. Deur jouself te omring met individue wat selfaanvaarding aanmoedig en die diversiteit van liggaamsvorme vier, kan help om 'n goeie omgewing te skep vir die ontwikkeling van 'n positiewe liggaamsbeeld. Positiewe mense is geneig om mekaar se gemoedere op te hef en om die positiewe in omstandighede raak te sien.Moenie toelaat dat negatiewe mense die beeld wat jy van jouself het, vernietig nie.

Doen iets wat goed is vir jou liggaam 

Prioritiseer jou gesondheid bo jou voorkoms en maak tyd om jou liggaam te versorg. Jy verdien om te ontspan, deur die park te stap of 'n massering te kry, ongeag hoe jy dink jy lyk. Om iets aangenaams vir jou liggaam te doen, kan jou liggaamsbeeld verbeter. Praktyke soos bewustheid (“mindfulness”) kan help om liggaamsbewustheid te ontwikkel en dit kan sodoende individue help om bewus te word van hul liggaam se behoeftes en sensasies. Om 'n positiewe liggaamsbeeld te hê, beteken dat jy genoeg omgee vir jouself om jouself goed te behandel en die lewe te geniet.

Versorg jouself  

Die doel van gesonde eetgewoontes en oefening behoort te wees om jouself goed te laat voel. Jy kan jou liggaamsbeeld verbeter deur jouself goed te versorg en selfversekerd te voel dat jy na jou gesondheid omsien. 'n Gebalanseerde dieet en gereelde oefening dra nie net by tot fisieke welstand nie, maar verhoog ook algehele selfvertroue en liggaamswaardering. 'n Gesonde dieet verbeter byvoorbeeld jou energie, fisiese vermoë en beskerm jou teen siektes. Jy sal die voordele van gesond eetgewoontes ervaar, maak nie saak hoe jou liggaam lyk nie.

Oefeninge soos strek en stap sal heel waarskynlik jou beter laat voel en jou beweging verbeter. Om aan groepsport deel te neem is 'n gesonde sosiale aktiwiteit wat nie net jou liggaam bevoordeel nie, maar dit kan ook jou emosionele verbintenis met ander verhoog.

Herinner jouself daaraan dat niemand perfek is nie 

Vier jou unieke liggaamsvorm en grootte. Aanvaar onvolmaakthede as 'n natuurlike deel van menswees. Wees bewus daarvan dat die meeste mense iets oor hulself het wat hulle graag sou wou verander of verbeter. Om 'n positiewe liggaamsbeeld te hê, laat jou toe om jou lewe te leef en jou doelwitte te bereik sonder om beperk te word deur jou voorkoms. Onthou dat daar nie een definisie van skoonheid is nie. Elke persoon beskik oor unieke eienskappe wat bydra tot hul definisie van skoonheid en waarde. Mense met alle soorte liggaamstyle kan hul doelwitte bereik en suksesvol in die lewe wees.

Pasop vir advertensies  

Moenie jouself vergelyk met diegene wat jy op advertensies, sosiale en ander media sien nie. Daag onrealistiese skoonheidstandaarde uit. Maatskappye skep dikwels advertensies om jou te laat voel dat jy hul produk nodig het om mooi te voel. Jou liggaamsbeeld of jou persepsie van skoonheid moenie gebaseer wees op watter skoonheidsproduk jy gebruik of wat jy weeg nie,maar dit moet eerder gebasseer wees op die unieke eienskappe wat elke persoon onderskei.

Kies en dra klere op grond van jou persoonlike voorkeur 

Kies klere wat gemaklik is en jou styl weerspieël. As dit vir jou ongemaklik is om sekere klere te dra, sal dit die manier hoe jy oor jouself voel, beïnvloed. Individue moet vry voel om unieke modestyle te dra ten spyte van hul liggaamsbou. Jou liggaamsbeeld sal meer positief wees as jy hou van die klere wat jy dra en gemaklik daarin voel.

Die kweek van 'n positiewe liggaamsbeeld is 'n voortdurende reis van selfontdekking en aanvaarding. Jy kan 'n positiewe liggaamsbeeld hê, maak nie saak watter grootte, vorm of tipe liggaam jy het nie. Behandel jouself goed, vier jou unieke eienskappe en beskou jouself as 'n volkome persoon met inherente waarde wat verder strek as slegs fisiese eienskappe.

 Hierdie blog plasing is slegs ter inligting. Dit moet nie as terapie beskou word nie. Hierdie blog is slegs vir inligting en opvoedkundige doeleindes en moet nie as terapie of enige vorm van behandeling beskou word nie. Ons kan nie reageer op enige spesifieke vrae of kommentaar lewer op persoonlike situasies, toepaslike diagnose of behandeling nie, of andersinds kliniese opinies lewer nie. As jy dink dat jy onmiddelike hulp nodig het, kontak asseblief jou plaaslike dokter/ sielkundige/ psigiater of die SADAG Geestesgesondheids Hulplyn op 011 234 4837. Indien nodig, kontak asseblief die Selfmoordkrisislyn by 0800 567 567 of sms 31393. 

Hierdie blog plasing is slegs vir inligting. Dit moet nie as terapie beskou word nie. Hierdie blog is slegs vir inligting en opvoedkundige doeleindes en moet nie as terapie of enige vorm van behandeling beskou word nie. Ons kan nie reageer op spesifieke vrae of kommentaar oor persoonlike situasies, toepaslike diagnose of behandeling nie, of andersins enige kliniese opinies verskaf nie. As u dink dat u onmiddellike hulp benodig, skakel u plaaslike dokter / sielkundige of psigiater of die SADAG Geestesgesondheidslyn by 011 234 4837. Indien nodig, skakel asseblief die Selfmoordkrisislyn by 0800 567 567 of sms 31393.