Return to site

Word ek regtig mishandel?

Dr. Elizma van der Smit Oktober 2017

· Verhoudings

Die verskillende tipes mishandeling

Een van die hartseertste dinge in my kliniese praktyk, is dat daar nie een week verbygaan wat ek nie met iemand praat wat op een of ander manier mishandel word nie. En wat my selfs hartseerder maak, is dat hulle dit nie eers weet nie!! Ek hoor dikwels stellings soos “dit is nie so sleg nie, ten minste slaan hy my nie”, of “hy is net baie bekommerd en beskermend teenoor my” of “dit was my skuld gewees, hy is eintlik baie goed vir ons”. Dit is uiters noodsaaklik dat elke mens die tekens en simptome van mishandeling moet kan herken – maak nie saak in watter vorm dit voorkom nie. Maak jouself bewus van die volgende vorme van mishandeling:

  • Fisiese mishandeling

Fisiese mishandeling sluit in enige intensionele aksie wat fisiese pyn, beserings of lyding kan veroorsaak. Dit sluit aksies in soos klap of slaan, stamp of stoot, verwurg, om jou fisies vas te hou sodat jy nie kan wegloop nie, die druk kvan ‘n vinger in jou gesig, die draai van arms of bene, om dinge na jou te gooi, die gebruik van wapens, om dinge te breek of stukkend te gooi, om jou eiendom te vernietig sonder jou toestemming, of om jou in ‘n kamer toe te sluit. Selfs al probeer ‘n persoon net om jou bang of seer te maak, is dit fiesiese mishandeling.

  • Seksuele mishandeling

Seksuele mishandeling sluit in enige seksuele aktiwiteit wat jou ongemakllik maak en waaraan jy nie wil deelneem nie of wat afgedwing word. Dit kan insluit verkragting, ongewensde soenery of aanraking, om iemand te dwing om iets te doen wat hul nie wil nie (soos byvoorbeeld om pornografie te kyk). Om jou te verneder in terme van jou liggaam of seksualitiet deur negatiewe opmerkings kan ook ‘n rol speel.

Geboorte beperking: Hierdie is ‘n vorm van seksuele mishandeling en hou verband met (veral jong vroue) se vermoë om hul eie reproduktiewe gesondheid te kan hanteer, byvoorbeeld wanneer sy gedwing word om geboortebeperking te gebruik of te los, gedwing word om keuses rondom swangerskap en terminasie te maak en wanneer hul min sê het in die aantal kinders en tydsbeplanning van hierdie kinders het.

  • Verbale mishandeling

Hierdie mishandeling sluit in konstante beledigings, vernederings, “name calling”, skree, wanneer jy vertel word dat jy vet en onaantrektlik is, minderwaardig of onbevoeg is of dat jy nie die vermoë het om dinge te doen of op jou eie sukses te kan behaal nie. Verbale mishandeling hou verband met emosionele mishandeling.

Emosionele/sielkundige mishandeling

Emosionele/sielkundige mishandeling gebeur wanneer iemand veroorsaak dat jy bang, geintimideerd, mal, simple of dom en waardeloos voel. Voorbeelde sluit in wanneer iemand dreig om jou seer of dood te maak, of om jou kinders te vat of seer te maak, afdreing met gewere of ander wapens, oormatige en konstante kritiek, wanneer troeteldiere seergemaak word, die ontkenning of minimalisering van die mishandeling en die geneigdheid om dit jou skuld te maak. Dit is ook mishandeling wanneer jou metgesel dreig om selfmoord te pleeg of om jou te verlaat, wanneer hul dinge doen wat jou verwar, of belangrike inligting van jou weerhou en jou uitsluit in belangrike besluitneming. Emosionele mishandeling kan verbaal of nie-verbaal wees.

  • Sosiale mishandeling

Enige gedrag wat jou isoleer en van vriende of familie weghou, word gesien as sosiale mishandeling. Wanneer iemand oordadig krities en suspisieus is van jou familie en vriende, wanneer jou gebruik van jou selfoon, internet of die gebruik van die kar beperk word. Wanneer iemand aktief probeer om jou van jou familie en vriende weg te hou omdat “hul sleg is vir jou en nie omgee nie”, of wanneer iemand jou dwing om tuis te bly of om selfs weg te trek van familie en vriende is dit onaanvaarbaar. Iemand mag ook nie vereis om ten alle tye te weet waar jy is en met wie jy kommunikeer nie.

  • Finansiële mishandeling

Hierdie tipe mishandeling veroorsaak dat vroue en kinders in armoede leef. Dit sluit in die beheer van jou geld deur jou toegang tot geld en bankrekeninge te weier. Wanneer iemand gedwing word om hul bankkaarte af te staan sodat die ander persoon beheer oor jou inkomste het, is dit mishandeling. Dit sluit ook in wanneer iemand verbied word om te werk en jou insette in finasiële besluite misken word. Wanneer iemand gedwing word om te vra vir geld vir basiese items soos kos, petrol, klere en gesondheidsorg of wanneer iemand gedwing word om kwitansies in te handig vir elke sent spandeer, val dit onder die sambreel van finansiële mishandeling.

Spirituele mishandeling

Wanneer iemand jou identiteit ondermyn deur jou geloof te kritiseer, of wanneer hul bybelversies aanhaal om hul mishandelingsgedrag te verskoon of te verduidelik, indien iemand jou keer om jou eie taal te praat en kultuur uit te leef, is dit spirituele mishandeling.

  • Skade aan eiendom

Dit gebeur wanneer die huis, meubels of enigiets anders wat jy besit of gebruik, opsetlik beskadig word. Dit sluit in die breek van kombuisware soos borde en glase, wanneer die kinders se speelgoed gebreek word, deur gate in die deure te slaan of te skop of wanneer jou kar beskadig word. Hierdie tipe mishandeling is spesifiek om jou te intimideer of bang te maak.

  • Agtervolging of “Stalking”

Agtervolging of “stalking” is bedoel om jou te intimideer en te teister. Dit kan insluit iemand wat jou agtervolg na jou werk, huis of sosiale aktiwiteit in die publiek. Dit kan die mishandelaar wees wat jou self fisies dophou, of hy kan jou “dophou” deur oormatig bel wanneer jy weg is, of vereis om te sien wie jy bel of vir wie jy boodskappe of emails stuur en ook wanneer hul jou wagwoorde vra om te kan inteken in jou sosiale media rekeninge soos Facebook en twitter. Soms kan dit jou familie of vriende wees wat geteister of geintimideer word.

Tegnologiese mishandeling

Hierdie vorm van mishandeling hou verband met agtervolging en sielkundige mishandeling. Tegnologie word gebruik om jou direk of indirek te monitor en te agtervolg. Dit kan gebeur met of sonder jou medewete, soos bevoorbeeld wanneer persoonlike inligting op webtuistes en sosiae rekeninge geplaas word, of wanneer agtervolgings meganismes en sagteware, luisterapparate of kameras in jou kar en fone geinstalleer word.


Self wanneer iemand net dreig om een van bogenoemde vorms van mishandeling toe te pas, word dit ook as mishandling gesien. Dikwels gebeur meer as een vorm van mishandeling in ‘n verhouding. Alle vorme van mishandeling is onwettig, alhoewel somminge moeiliker is om wetlik te vervolg.

Wat moet ek doen as ek mishandel word?

Jy mag dalk bang en magteloos voel, die meeste vroue doen wanneer hul mishandel word. Indien jy egter wil hê dat dinge beter moet word, moet jy veranderinge aanbring – selfs al is jy bang. Dit mag baie moeilik wees. Maar probeer onthou, jy is nie alleen nie. Daar is hulp.

Baie vroue wat met hierdie keuses gekonfronteer word, het besluit dat hul nie verdien om mishandel te word nie, so hul verlaat hul verhouding tydelik of permanent. Dit is ‘n baie moeilike besluit, maar elke mens verdien om veilig te voel en om met respek behandel te word. Watter keuse jy ook al maak, daar is mense en organisasies wat jou kan ondersteun en help.

Praat daaroor

Baie vroue vind dat dit help om met iemand te praat oor wat gebeur in die huis. Praat dus met iemand wat jy vertrou – a vriend of familielid, ‘n geestelike leier of ouer persoon, ‘n dokter, sosiale werker of sielkundige in jou gebied. Jy kan ook hulp kry by organisasies soos Lifeline (http://lifelinesa.co.za/) of People Opposing Women Abuse (https://www.powa.co.za/POWA/) om jou te help om met die sielkundige en emosionele implikasies van mishandeling te hanteer.


Maak ‘n kriminele saak, doen aansoek vir ‘n beskermingsbevel en/of rapporteer die mishandeling by jou plaaslike polisiekantoor.
 

Wat as ek bly?

Jy mag dalk besluit om by jou maat te bly, vir nou. Miskien voel jy daar is ‘n kans om dinge te herstel. Miskien voel jy jou verhouding is regtig belangrik en dat jy baie energie en tyd daaraan spandeer het. Baie vroue doen. Maar jy moet weet dat dinge gewoonlik net vir ‘n kort tydjie beter gaan, tensy die mishandelaar hulp kry, sal die mishandeling dikwels net erger word.

Stel grense en beskerm jouself

As jy besluit om te bly, moet jy grense stel. Jy kan besluit wat moet verander en watter gedrag is aanvaarbaar vir jou voordat jy permanent sal bly. Jy kan ook besluit hoeveel tyd jy die mishandelaar sal gee om hierdie veranderinge aan te bring. Indien veranderinge nie plaasvind binne die tydperk wat jy gestel het nie, mag jy die persoon vra om te gaan of, afhangend van die situasie, mag jy dalk besluit om te gaan.

As jy besluit om by jou maat te bly, onthou dat jou en die kinders se veiligheid altyd eerste kom.

Bronne

http://www.bdvs.org.au/resource_files/bdvas/Forms-of-Abuse.pdf

http://www.sfhsa.org/417.htm

http://www.justice.gov.yk.ca/prog/cor/vs/whattodo.html

http://www.w24.co.za/Work/Legal/How-to-legally-protect-yourself-against-domestic-abuse-20130807

Hierdie blog plasing is slegs vir inligting. Dit moet nie as terapie beskou word nie. Hierdie  blog is slegs vir inligting en opvoedkundige doeleindes en moet nie as terapie of enige vorm van  behandeling beskou word nie. Ons kan nie reageer op spesifieke vrae of kommentaar oor  persoonlike situasies, toepaslike diagnose of behandeling nie, of andersins enige kliniese opinies verskaf nie. As u dink dat u onmiddellike hulp benodig, skakel u plaaslike dokter / sielkundige of  psigiater of die SADAG Geestesgesondheidslyn by 011 234 4837. Indien nodig, skakel asseblief die Selfmoordkrisislyn by 0800 567 567 of sms 31393.
Hierdie blog plasing is slegs vir inligting. Dit moet nie as terapie beskou word nie. Hierdie blog is slegs vir inligting en opvoedkundige doeleindes en moet nie as terapie of enige vorm van behandeling beskou word nie. Ons kan nie reageer op spesifieke vrae of kommentaar oor persoonlike situasies, toepaslike diagnose of behandeling nie, of andersins enige kliniese opinies verskaf nie. As u dink dat u onmiddellike hulp benodig, skakel u plaaslike dokter / sielkundige of psigiater of die SADAG Geestesgesondheidslyn by 011 234 4837. Indien nodig, skakel asseblief die Selfmoordkrisislyn by 0800 567 567 of sms 31393.